Partykeer kan herfs so 'n ander hoek aan gewone dinge gee. Gister het ons, na dae in die appartementje vasgekeer deur reën en wind, besluit om 'n kans na buite te waag. Dit was bewolkerig maar droog en die weervoorspelling het darem 'n sonnetjie deur die wolke belowe.
Ons het eers rompslomp afgehandel en toe op die trem geklim Delft toe. Ek love die trem, want mens sien ander dele van die stad op dié manier - en dit word toe so 'n halwe nostalgiese trippie, want ek en Yolandie het ook in Maart met die trem Delft toe gery. Was so lekker toe ook, hoewel dit nog winter was. In Delft aangekom, stap ons direk markplein toe - ons vrek vir lekker koffie en word nie teleurgestel nie! Daar is 'n vlooimark op die plein en dis besig-besig. Ons drentel rond, neem foto's, geniet die atmosfeer en ek en Henk koop kleinighede vir die mense tuis (ja Yolandie, by dieselfde winkeltjie waar ons laas daai 1 euro stuff gekoop het!). Die geure van blomme, speserye en gebak meng met dié van koffie en gebakte vis, en die talle kaasstalletjies se melkerige geure volg mens oral. Ons stap weer in by die Nieuwe Kerk waar Willem van Oranje se oorskot ook lê. Ek kan maar net nie genoeg kry van die ou huise en geboue om die markplein nie! En Delftware en kleure is GROOT hier - behoorlik oral en op alles, en dis mooi! Die herfsonnetjie laat ons nie in die steek nie, en ons neem pragtige foto's van lanings bome en huisies wat met hulle voete binne-in die grag se donker water staan. Ag ons geniet dit net ten volle en loop later sleepvoetend terug na die tremhalte - ons sou langer wou bly! Ons is so teësinnig om weer in ons klein woonplekkie te gaan sit, dat ons impulsief in Den Haag middestad by Kneuterdijkhalte afklim en met die lieflike groen en goud Voorhoutlaning afstap tot by De Posthoorn - ons geliefkoosde stadseetplekkie (onthou jy, Yolandie?). Ons gesels lekker daar met 'n jong kelner wat my aksent dadelik opmerk - en vra of ek mense met die van 'Steenkamp' in Richardsbaai ken (hehehe) - dit is familie van hom en hy was vroeër die jaar daar en verlang om ook weer Suid-Afrika toe te kan gaan. Te dierbaar. Die duiwe en blinkswart kauwtjes pik tussen die buitetafeltjies rond vir eetgoedjies, en Henk draai sy gesig genoeglik na die son se kant toe. Die dag is mooi verby! Ons eet ietsie daar en stap later terug na die tremhalte en wag 'n paar minute vir ons Trem 1, wat ons Scheveningen toe sal neem. Ry verby die reusagtige Vredespaleis met sy lieflike tuine, verby die straat met sy honderde internasionale vlae (Yol, onthou jy hoe ver het ons daai een dag gestap?)verby die mooie drieverdieping woonhuise en kerke, verby die 'snack-bars' en parkies, en is vinnig by Keizerstraat, waar ons afklim, proviand koop en doodmoeg later tuiskom. Ja dit was weer een van daardie dae wanneer die 'gewone' iets so besonders word. En ek weet ons gaan terugverlang!
0 Comments
Na die teleurstellende nuus dat ons vriende nie kan oorkom vir 'n vinnige kuier nie, het ek 'n paar gedagtes gehad waaroor ek steeds tob: wat is belangriker, om goed vir jou toekoms te sorg en spaarsamig te werk te gaan, of om dalk elke dag te gryp sonder om oor die dag van môre te bekommer?
En nee, ek het nie die antwoord nie, ek wonder daaroor. Beide gevalle het beslis meriete. Dis tog noodsaaklik om nie kop-in-die-sand te wees oor jou finansiële toekoms nie, en alles in jou vermoë te doen om sorgvry te lewe en oud te kan word, nie waar nie? As dit jou keuse is, moet jy maar weet jy gaan geleenthede moet laat verbygaan - kanse om impulsiewe besluite deur te voer, wat kon lei tot groot oomblikke van pret en plesier. Maar dan sal jy tog voel jy het die regte ding vir jou langtermynplan gedoen, en dit kan baie bevredigend wees. Daar teenoor egter kan jy dalk die regte Carpe Diemer wees wat leef vir die nou en hier, halsoorkop inboender in dinge in en heerlike tye beleef. Die negatiewe hieraan is natuurlik dat jou impulsiwiteit jou lang trane na die tyd kan laat huil. Jy sal dan dalk spyt wees dat jy nie dinge beter deurdink het nie, want jou kanse op 'n relatief rustige oudag is erg verlaag deur dit nie beter te beplan nie. Die vraag bly egter, wie sê? Hoe weet ons ons gaan baie oud word? Is dit nie beter om dan die ou geykte stelling van die rak af te haal, af te stof en dan te sê: maak die beste van élke dag, op die beste manier wat tot jou beskikking is, nie? Ja, ek weet dit is 'n cliché in die ergste graad maar clichés is soms juis dit wat waar is en deur die eeue heen as sulks bewys is. So, nadat ek nou hier gesit en verder dink het oor bogenoemde kwessie, het ek tog nou 'n mate van vrede in my hart gemaak. In my siel en wese weet ek dat geld nie geluk kan koop nie. Ek weet ook vir 'n feit dat dit die klein dinge in die lewe is wat belangrik is: die eenvoudige sit op 'n bankie en tuur oor die see; die drukkies van jou kleinkinders; 'n kat se sagte pels onder jou hande; jou geliefde se hand op jou arm. Niks daarvan kan geld koop nie. En my gevolgtrekking dan op my eie vrae hierbo kan dan nou wees: Wees versigtig met die toekoms maar nie té bang nie. Leef elke dag asof dit jou laaste is. Waardeer dit wat jy nou en hiér het. '... and you may be happy', soos Cat Stevens gesing het. Soggens vroeg skyn die helder Suid-Afrikaanse son al oor die berge op die stoep. Ek trek dan vinnig my loopskoene aan en sluit agter my vir my oggendstappie. Die strate is doodstil. Ek stap vinnig en asem die vars berglug in. My roete gaan oor heuwels en dale, en die pragtige uitsig sover as wat jy gaan, laat jou vergeet dat jy glad nie 'n maklike wandelpad het nie.
Soms, onder teen die heuwel waar die bome dig is oorkant die straatjie, kom ek 'n hele familie blouapies teë. Hulle skarrel oor die pad en verdwyn die vrugtebome van die tuine in. Ek beskou dit elke keer as 'n gelukskootjie, want is so lief vir die apies met hulle oulike gesiggies en rats lyfies. Party oggende stap ek hoog teen die berg op tussen die bosbouhuise in, partykeer op die ou houttrein se spore, ander kere dwarsdeur die dorp. Dit bly net mooi paaie. Nou-en-dan sal ek sommer gou 'n vars brood koop op pad terug, of gaan pos uithaal by die poskantoor. Maar gewoonlik stap ek net en dink aan hoe gelukkig ek daar is, hoe geborge ek voel tussen my berge. Soms kry ek die mees wonderlike kreatiewe idees so met die loopslag, soms stap ek saam met 'n goeie vriendin en dan praat ons ons harte teenoor mekaar uit - oor ons kinders, ons bekommernisse, ons hoop en ons drome. Dan kom ons totaal verfris na liggaam en gees tuis, en die dag begin net heeltemal rég! En vandag mis ek dit as ek so na die 'waterige' sonnetjie hier in koue kikkerland kyk. Nie dat ek nie lief is vir die stad nie, of die see hier 100m van ons af nie waardeer nie. Ek mis net die berge vanoggend, dis al. |
StephLaslappiegedagtes aan tye saam in Nederland en hier. ARGIEWE |