Soggens vroeg skyn die helder Suid-Afrikaanse son al oor die berge op die stoep. Ek trek dan vinnig my loopskoene aan en sluit agter my vir my oggendstappie. Die strate is doodstil. Ek stap vinnig en asem die vars berglug in. My roete gaan oor heuwels en dale, en die pragtige uitsig sover as wat jy gaan, laat jou vergeet dat jy glad nie 'n maklike wandelpad het nie.
Soms, onder teen die heuwel waar die bome dig is oorkant die straatjie, kom ek 'n hele familie blouapies teë. Hulle skarrel oor die pad en verdwyn die vrugtebome van die tuine in. Ek beskou dit elke keer as 'n gelukskootjie, want is so lief vir die apies met hulle oulike gesiggies en rats lyfies. Party oggende stap ek hoog teen die berg op tussen die bosbouhuise in, partykeer op die ou houttrein se spore, ander kere dwarsdeur die dorp. Dit bly net mooi paaie. Nou-en-dan sal ek sommer gou 'n vars brood koop op pad terug, of gaan pos uithaal by die poskantoor. Maar gewoonlik stap ek net en dink aan hoe gelukkig ek daar is, hoe geborge ek voel tussen my berge. Soms kry ek die mees wonderlike kreatiewe idees so met die loopslag, soms stap ek saam met 'n goeie vriendin en dan praat ons ons harte teenoor mekaar uit - oor ons kinders, ons bekommernisse, ons hoop en ons drome. Dan kom ons totaal verfris na liggaam en gees tuis, en die dag begin net heeltemal rég! En vandag mis ek dit as ek so na die 'waterige' sonnetjie hier in koue kikkerland kyk. Nie dat ek nie lief is vir die stad nie, of die see hier 100m van ons af nie waardeer nie. Ek mis net die berge vanoggend, dis al.
0 Comments
|
StephLaslappiegedagtes aan tye saam in Nederland en hier. ARGIEWE |